Boere-Afrikaners, Jode en Israel

Boere-Afrikaners, Jode en Israel

Prof Johan Malan

Opsomming: Die regte etniese identiteit van Israel én die nasies sal verwarring voorkom oor wie ons regtig is. Die Boere is nie Israeliete nie! 

Die Boere-Afrikaners word deur verskeie hoogs omstrede politieke en godsdienstige standpunte uitmekaar gedryf. Sommige daarvan, soos bv. die Israelvisie met sy Jodehaat, het geweldige negatiewe implikasies. Dit sal dringend uit ons ideologiese en godsdienstige denke verwyder moet word indien ons suiwer evangeliese Christene wil wees wat onsself sinvol aan die voortbestaan van ons volk wil wy.

Ons moet weet wie onsself is, wie die Jode (of Israel) is, wat ons met mekaar in gemeen het en wat ons van mekaar onderskei. As ons dink dat óns 'Israel' is en dat die Jode nié 'Israel' is nie, dan begewe ons onsself in 'n kompetisie oor volksidentiteit met die Jode. Dit laat mense in 'n moeras van verwarde denke beland waaruit die mees grusame drogbeelde oor die Joodse volk opgediep word. Ek glo dat ek as Christen-volkekundige deur die genade van die Here 'n sinvolle bydrae tot die debat oor etniese en godsdienstige opvattings oor Israel én ons volk kan lewer.

Polarisasie

Israel is een van die mees gepolariseerde volke ter wêreld. Baie van die dinge wat uitermate sleg én uitermate goed is, is Joods in oorsprong. Dink ‘n bietjie hieroor na. Die Christendom, insluitende die Messias self, die apostels, die Bybelskrywers én die vroeë Christelike kerk is Joods in oorsprong. Vir die Samaritaanse vrou het Jesus gesê: “Die saligheid is uit die Jode” (Joh. 4:22).

Terselfdertyd is die grootste vyande van die Christendom ook Jode. Selfs die Antichris gaan ‘n Jood wees. Mag ons op grond hiervan veralgemenings maak en die hele Joodse volk in ‘n slegte lig stel? Hoegenaamd nie!

“Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige van hulle ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” Rom. 3:1-4

Daar was nog altyd ‘n gelowige oorblyfsel in Israel.

Ons kan hierdie polarisasie na baie ander terreine deurtrek. Die grootste kommuniste en ateïste was Jode, maar die grootste Christene en kampvegters téén kommuniste was ook Jode (dink maar aan Wurmbrand met sy Christelike Sending aan die Kommunistiese wêreld). Die mees beroemde wetenskaplikes van alle tye was Jode, bv. Newton en Einstein, terwyl die grootste misbruikers van die kerntegnologie ook Jode was. Ook in die kapitalistiese en finansiële wêreld het hulle ‘n groot rol gespeel – soms ten goede en soms ten kwade.

Baie aan Israel te danke

Die harde feit waarvoor ons te staan kom, is dat ons oneindig baie aan Israel te danke het. Selfs in hulle geestelik gevalle en verblinde toestand is hulle ‘n seën vir die nasies:

"Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie?" Rom. 11:11-12

Ons verbind ons geloof in die gekruisigde Here Jesus regstreeks aan die feit dat die Jode Hom verwerp en gekruisig het. Hoewel hulle dit met verkeerde motiewe gedoen het, was dit God se wil dat sy Seun vir sondaars moes sterf. Die seën van Abraham, nl. dat uit sy nageslag ‘n Verlosser vir Israel én die hele wêreld gebore sou word, het ook na die Boerevolk in Suid-Afrika gekom. Tweeduisend jaar gelede was ons voorvaders nog deel van die "heidene" (letterlik "etniese groepe") na wie die seën van Abraham deur Jesus Christus gekom het. Paulus was die grondlegger vir die evangelisering van die nie-Joodse etniese groepe. Die uitvoering van hierdie opdrag gaan vandag nog voort.

M.b.t. Abraham se biologiese afstammelinge deur Isak en Jakob het die Here gesê: "Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word " Gen. 12:3; vgl. ook Gal. 3:14

Omdat dit so is móét ons Israel seën, want daardeur eer ons God en bring ook ‘n seën oor onsself, benewens die feit dat ons Israel vir God help terugwen deurdat ons hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakbob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Ons moet “bid om die vrede van Jerusalem” (Ps. 122:6) en daardeur ook verseker dat ons self in vrede leef.

Israelvisiedwaling

As ons Israel vervloek, bring ons vloeke en goddelike wraak oor onsself (Gen. 12:3). Ons mag nie Israel se identiteit vir onsself opeis en hulle daardeur hulle bestaansregHere as ‘n volk ontneem nie (Isrealvisiedwaling). Ongelukkig is dit ‘n baie populêre neiging onder regse Afrikaners. Ek wil dit hier as ‘n feit konstateer dat dit, saam met ons geestelike afvalligheid, die enkele belangrikste rede is waarom ons in ballingskap in ons eie land is. Verootmoediging alleen sal niks help as ons nie ook hierdie verkeerde sake regstel nie.

Indien ons met ons eensydige benadering volhard deur lang lyste van Joodse ongeregtighede en dwalinge te publiseer en daardeur Jodehaat in ons land verder aanvuur, trek ons die mat onder onsself uit en is dit ikabod met ons volkie. Ons het geen toekoms as ons dít doen nie! Dit sal ook niks help om Jode vir al ons ellende,  en selfs vir die Nuwe Wêreldorde (NWO), te blameer en dan ons godsdiens te beoefen wat aanvanklik deur Joodse kanale na ons gekom het (deur Jesus, die apostels en Paulus), en geen erkenning hiervoor aan hulle te gee nie.

Wat die NWO betref, is Israel nie die uitvinders en dryfkrag daarvan nie, maar die nie-Joodse nasies. Die NWO is wesenlik anti-Joods en dwing Israel bv. om sy land met die Palestyne te deel. Hiervoor gaan die Here die nasies by die slag van Armagéddon straf:

"Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle 'n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het" Joël 3:1-3

Ook in Sagaria 14:12-13 word die aaklike lot van die anti-Joodse nasies beskryf wat teen Jerusalem gaan oorlog maak. As ons met ons anti-Joodse propaganda aanhou, gaan daar ook ‘n goeie klompie regse Afrikaners in die multi-nasionale mag wees wat saam met die NWO-lande, Moslems en kommuniste teen die Jode en Jerusalem gemobiliseer gaan word.

Is dit nie verbasend hoedat Satan almal – van vér links tot vér regs – met anti-Joodse propaganda vir sy doel mobiliseer nie! In ons eie land steun die huidige regering die saak van Jasser Arafat en die PBO, en sal dus hoogs waarskynlik in die toekoms aan ‘n internasionale offensief teen Joods-beheerde Jerusalem deelneem. Saam met hulle, maar om heeltemal ander redes, sal ook ‘n aantal regses wees. Hulle haat die Jode omdat lg. na bewering agter al wat ‘n ondermynende organisasie is staan, en daarom moet hulle ‘uitgewis’ word. Dit is ook die taal wat Hitler gebruik het, en hy het beslis sy oë in die hel oopgemaak.

Teologiese onkunde

Een van die groot redes vir die wanbegrip oor Israel is die antichiliastiese eskatologie wat die gereformeerde susterskerke in Suid-Afrika verkondig. Dit behels die vergeesteliking van Bybelse profesieë, met die gevolg dat daar nie meer aan 'n letterlike herstel van israel, die wegraping, die koms van 'n persoonlike Antichris, 'n sewe jaar lange verdrukking en 'n duisendjarige vrederyk op aarde geglo word nie. Dit bring mee dat baie Christene nie 'n duidelik toekomsverwagting het nie.

Een van die implikasies hiervan is dat die meeste Boere-Afrikaners dink dat die kerk die Israel van die Nuwe Testament is. Hulle het geen begrip vir die honderde Bybelse profesieë oor die letterlike herstel van die verstrooide Israeliete na hulle eie land in die eindtyd nie. Jesaja sê bv. oor 'dié dag', bedoelende 'die dag van die Here', wat 'n eindtydse begrip is:

"En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek om die oorblyfsel van sy volk los te koop… en Hy sal 'n banier ophef vir die nasies en bymakaar laat kom die seuns van israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde" Jes. 11:11-12

Eségiël sê:

"So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land" Eseg. 37:20

Dit is ironies dat hierdie en ander profetiese waarhede nou in talle kerke verwerp word terwyl dit vroeër jare nie so was nie. Die stigters van die kweekskool op Stellenbosch (proff. Hofmeyr, De Vos en Marais, en ds. Neethling) het in die letterlike vervulling van profesieë geglo, asook dr. D.R. Snyman wat lank op Stellenbosch was. Lg. het 'n boek, "Toekomstige dinge", geskryf waarin die herstel van Israel en die opkoms van 'n persoonlike Antichris geleer is.

Vandag is dit egter anders. In die tyd ná die Tweede Wêreldoorlog het teoloë wat aan die Vrye Universiteit in Amsterdam, Nederland,  gaan studeer het en daar doktorsgrade verwerf het, die vergeestelikingsteologie (waarin een begrip deur 'n ander vervang word) hierheen oorgedra. Die liberale teologie, waarin humanistiese en politieke interpretasies van die Bybel gemaak word, was deel van die nuwe benadering.

Hierdie vervangingsteologie het veroorsaak dat verskillende maniere bedink word om onsself in Israel se plek te stel – óf as fisiese afstammelinge van die sg. ‘tien verlore stamme’ óf as die geestelike verteenwoordigers van al twaalf die stamme. Beide hierdie sieninge is onskriftuurlik. Deur fanaties aan ons dwalinge vas te klou en dit wyd te publiseer, word die verwarring en onkunde elke dag groter. Dit is die rede waarom dwalings soos dié van die Israelvisie maklik onder ons mense posvat. Hulle het nie 'n Bybelse verwysingsraamwerk om dit te kan beoordeel nie.

'n 'Veelvolkige Israel'

'n Populêre siening van die Israelvisie is dat al die blanke volke van die Weste uit die sg. tien verlore stamme van Israel ontwikkel het, en dat die moderne Jode die verbasterde afstammelinge van Juda en Benjamin is. Hierdie mense wil nie aanvaar dat "Israel" en "Jode" sinonieme vir dieselfde volk is nie. Daar word geargumenteer dat daar aan Abraham en Jakob beloftes gemaak is dat hulle die vaders van 'n menigte nasies sou wees.

Abraham beklee 'n unieke posisie as die geestelike vader van alle gelowiges én as die biologiese vader van die twaalf stamme van Israel sowel as 'n aantal Arabiese volke. Wat Jakob betref, word hy tallose kere in die Bybel óf as die vader van een volk, óf as die vader van die 12 stamme, óf hoogstens as die vader van twee volke (Juda en Israel gedurende die 250 jaar van die verdeelde ryk van Israel en Juda) beskryf. Daar is té veel voorbeelde om te noem. Die volgende is enkele voorbeelde:

“U het u volk verwerp, die huis van Jakob…” Jes. 2:6

“Die oorblyfsel van Jakob sal terugkom na die sterke God…” Hy sal hulle noem: “O my volk wat in Sion woon” Jes. 10:20-2

“Want die Here sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land vestig” Jes. 14:1; (dit is tog net een volk en een land).

“So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeel wees nie” Eseg 37:21-22

“En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word… Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” Jes. 49:5-6

Lede van al 12 die stamme het uit die Assiriese en Babiloniese ballingskap na Israel teruggekeer, soos uitdruklik in die Ou Testamentiese boeke van Esra en Nehemia gekonstateer word, asook in die Nuwe Testament. Moderne DNA toetse bewys ook die afstamming van etlike Joodse families van antieke priesterlike families af.

Israel word duidelik van die ander nasies onderskei, wat in Jesaja 49:6 goyim genoem word. Met geringe uitsonderings van ondertrouing en assimilasie, is Israel nie deur die nasies opgeneem waarheen hulle verstrooi geraak het nie. Nee, hulle word nou, in die eindtyd, weer tussen daardie nie-Joodse nasies uit versamel en na hulle land (Israel) teruggebring.

Die Bybel erken die feit dat hulle tussen die nasies verder versleg het, daarom bring die Here hulle na Jerusalem terug om hulle in ‘n smeltkroes van benoudheid en verdrukking te plaas sodat ‘n oorblyfsel van hulle gered kan word:

“…die huis van Israel het vir my skuim geword… Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusale bymekaarmaak… en ‘n vuur teen julle aanblaas” Eseg. 22:19-22

Dit is dus net een volk wat na een land herstel word met die oog daarop dat ‘n oorblyfsel van hulle ná hul fisiese herstel ook geestelik herstel kan word. Die nasionale geestelike herstel van Israel sal eers op die dag van die wederkoms van Jesus plaasvind, m.a.w. nadat die volle oes onder die nie-Joodse nasies a.g.v. die huidige proses van wêreldevangelisasie reeds ingesamel is:

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” Rom. 11:26

“Maar oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n enigste kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11; kyk ook Sag. 3:9, 13:1, 9).

In die vrederyk daarna sal die hele Joodse volk dus gered wees en ‘n seën vir die hele aarde wees:

“En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” Rom. 11:12

“In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” Sag. 8:23

Die toekoms van Israel

Wat dan van die beloftes in Génesis dat Jakob ‘n menigte van nasies sal word? Ons moenie té haastig hiermee wees en dit in ‘n deel van die geskiedenis probeer inlees waarin dit nog nie gebeur het nie. Onthou dat daar baie beloftes aan Israel is wat nog nie vervul is nie. Dit sal in die komende verdrukking (die 70ste jaarweek van Daniel, ook genoem die tyd van die benoudheid van Jakob – Dan. 9:27, Jer. 30:7), én in die duisendjarige vrederyk (die Messiasryk) daarna vervul word. Die Here sê:

“Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie” Jer. 30:11

Ons leef tans nog in die tye van die nasies, waaruit ‘n bruidsgemeente vir die Here Jesus versamel word. Die tye van al hierdie nasies gaan egter verby, en die gereddes sal in die koninkryk van die hemele opgaan waar hulle ewige burgerskap geleë is (Fil. 3:20). Die ongereddes sal saam met Satan in die hel wees. Die volk Israel gaan egter ná die tye van die nasies voortbestaan. In die vrederyk sal Israel ‘n geweldige groot volk word en hulle land se grense sal van die spruit van Egipte af tot by die Eufraatrivier strek (Gen. 15:18). Dit is maar net een van die beloftes wat nog vervul móét word.

Afstammelinge van Jafet

Daar is nog ‘n verdere oogpunt waaruit dit baie duidelik is dat die Boerevolk en die ander blanke volke nie Israel of Israels in oorsprong is nie. Dit is die feit dat ons nie van Sem afstam nie, maar van Jafet. In Génesis 10:2 word Gomer as een van die seuns van Jafet genoem. Van hom het al die Germaanse volke van Sentraal- en Noordwes-Europa afgestam. Dit sluit o.a. die Duitsers, Oostenrykers, Belge, Swede, Hollanders en Engelse in. Van ander seuns van Jafet het die Kelte en Ibériërs afgestam (lg. is die sg. Latynse volke soos die Italianers, Franse, Spanjaarde en Portugese).

Verder sien ons dat Magog ook ‘n seun van Jafet was. Uit sy nageslag, wat deur die Grieke die Skitiërs genoem is (Kol. 3:11), het verskeie van die moderne Russiese volke afgestam. Meseg en Tubal was jonger broers van Magog en het ook in die huidige Oos-Europa gevestig. Al hierdie en ander afstammelinge van Jafet kan histories sonder enige twyfel tot minstens 1400 v.C. teruggespoor word – dit is baie lank voor die Assiriese ballingskap van die 10 stamme. Die Europese volke kon nog nooit in die geskiedenis as Semitiese volke met Semitiese tale of kulture bestempel word nie, en vandag ook nog steeds nie.

Ek is dus ‘n Christen-Boere-Afrikaner van Germaanse afkoms uit Europa, en nie ‘n Israeliet nie! Ek is ‘n lid van een van die baie nie-Joodse nasies aan wie die Here Jesus sy reddende genade sonder aanneming van die persoon bewys het (m.a.w. sonder verwysing na my sosiale posisie, volks- of rasseverband).

Omdat die Here self die outeur van etniese en nasionale grense is, en dit ook in die Nuwe Testament herbevestig het (Hand. 17:26), streef ek na volksuiwerheid en die verkryging van nasionale selfbeskikkingsreg onder ‘n Boereregering binne ‘n duidelik omskrewe gebied. Dieselfde beginsel geld ook vir alle ander volke, insluitende Israel in die Midde-Ooste met Jerusalem as hulle hoofstad.

'n Seën vir die nasies

Ons moet erken dat Israel ‘n volk is wat deur God verkies is om vir die hele wêreld tot geestelike seën te wees. Al het ‘n groot deel van hulle afvallig geraak, het die seën van Abraham inderdaad deur Jesus Christus na die nasies gekom. Ons moet erkentelik teenoor Israel wees vir die feit dat die Verlosser van die wêreld uit hulle gebore is. As mens is Hy die Seun van Dawid uit die stam van Juda (dit is nie een van die sg. tien verlore stamme nie). Die apostels was ook Jode, insluitende Paulus wat gesê het: “Ek is ‘n Joodse man van Tarsus” (Hand. 21:39). Terselfdertyd was hy ook 'n Israeliet (Rom. 11:1).

Mag ons Israel weens die afvalligheid van die meerderheid verstoot en ‘n slegte naam aan hierdie volk gee van wie die evangelie van verlossing na ons gekom het? Gedagtig aan hulle ongeregtighede het Paulus ook met dié vraag geworstel:

“Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin. God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elia sê nie? – hoe hy by God optree teen Israel en sê: Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself seweduisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van genade” (Rom. 11:1-5; vgl. ook Lev. 26:44-45)

Selfs Elia het hierdie volk as gevolg van die goddeloosheid van die meerderheid by die Here aangekla. Wat sê die Here hiervan? Hy wil nie hê dat hulle verwerp en verdoem word nie want Hy hou vir Homself ‘n gelowige oorblyfsel in stand wat waardig sal wees om die beloftes wat aan die vaders gemaak is, te beërf. Hulle is reeds ‘n seën vir die wêreld en sal dit in die toekoms in ‘n voller mate wees nadat die Messias gekom het – veral ook ná sy tweede koms:

"In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak" Jes. 27:6

Paulus bevestig in die reeds aangehaalde gedeelte in Romeine 3:1-4 die feit dat die ontrouheid van die meerderheid nie die seën deur die gelowige minderheid kan uitkanselleer nie.

God sal ten spyte van die meerderheid se ontrouheid nog steeds sy wonderlike doel deur die gelowige oorblyfsel bereik. Daarom moet Israel as volk tot eer van die Here, en ook in ons eie belang, geseën en geëer word. Die Here het vir Abraham gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3).

Dit is absoluut verkeerd om lang lyste van Joodse ongeregtighede op te stel en daardeur verder die Antichris se ideologie van Jodehaat aan te blaas. Deur die Jodendom te verdoem raak só 'n persoon die Here se oogappel aan (Sag. 2:8). Hy inkrimineer die volk deur wie se bemiddeling die evangelieboodskap na die wêreld uitgedra is, en sodoende bring hy die toorn van die Here oor homself én sy volksgenote wat hom in sy kwaadwillige propagandaveldtog steun.

Reiniging van sonde

Met 'n positiewe, Bybelse ingesteldheid teenoor Israel bedoel ek nie dat die meerderheid Jode se ongeregtighede toegesmeer moet word nie. Die Here sê dat Hy hulle hiervoor sal straf: "Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie" (Jer. 30:11). Sy straf is egter op herstel gemik: “Ek sal hulle reinig van hulle ongeregtighede waarmee hulle teen my gesondig het” (Jer. 33:8).

Van ons verwag die Here om die afvallige Jode te evangeliseer, hulle Bybelse aanspraak op hulle land te erken, hulle in hul verdrukking en stryd te troos en te bemoedig, en sodoende sommige vir sy koninkryk terug te wen (Jes. 40:1-2; Eseg. 36:22-28; Rom. 11:11).

Indien 'n persoon die gevaarlike pad wil bewandel om Israel se dwalinge te bespreek en allerlei bewyse teen hulle uit koerante, tydskrifte en geskiedenisboeke op te diep, moet dit net só gedoen word dat die hele volk nie ‘n slegte naam kry en Jodehaat sodoende aangeblaas word nie. Ek dink nie dit is moontlik om hierdie negatiewe gevolge te ontkom as mens jou met projekte van dié aard besig hou nie.

Hitler het uiteindelik ook die Bybel as “’n Joodse boek” verwerp en die ou Germaanse afgodediens laat herleef. Teen die einde van sy lewe was hy baie nou geassosieer met Teosofiste (die moederorganisasie van die Nuwe Era Beweging) en het ook Indiese ghoeroes na Duitsland toe laat kom. Om hom nog te wil verskoon oor wat hy aan Israel gedoen het deur die Joodse volksmoord as histories onjuis af te maak, is net so goed as om aan die duiwel ‘n goeie naam te probeer gee. Dit is ‘n absolute vergryp teen die waarheid.

Nuwe wêreldorde sameswering

Dit word soms beweer dat die Nuwe Wêreldorde (NWO) ‘n Joodse sameswering teen die wêreld is. Al is daar sekere Jode hierby betrokke, is dit bloot net nie waar dat hulle ‘n leidende rol daarin speel nie! Die NWO is wesenlik anti-Joods en forseer vir Israel om sy land met Jasser Arafat en die PBO te deel. Die nasies wat hieraan meedoen kom uit ‘n eeue-oue tradisie van anti-Israelisme. Soos reeds aangetoon, gaan die Here hulle hiervoor straf.

Dit is nodig om voort te gaan om artikels oor die NWO te skryf, maar dan moet dit duidelik as ‘n internasionale sameswering vir die skepping van ‘n wêreldregering, ‘n verenigde wêreldgodsdiens en ‘n sentraal beheerde wêreldekonomie geïdentifiseer word. Hierdie sameswering moet nie aan die adres van die Jode gerig en daardeur Jodehaat aangeblaas word nie. Die  belangrikste rolspelers hierin is die G7 lande in assosiasie met die wêreldgeldmag, die Klub van Rome, die Vrymesselaars, die Vatikaan, die Wêreldraad van Kerke, Islam, Japan, ens.

Daar moet nie gesuggereer word dat die Jode sommige van hierdie groot drukgroepe beheer nie, want dit is lankal nie meer so nie. Hulle het reeds baie van die invloed wat hulle in die wêreld gehad het, verloor, selfs ook in finansiële kringe. Die meeste van die tien grootste banke in die wêreld is Japannese en Saoedi-Arabiese banke met geen enkele Jood op hulle direksie nie. As daar dus name van samesweerders genoem word, moet die korrupte nie-Joodse propagandiste van Amerikaanse, Britse, Europese, Russiese, Oosterse en Afrika oorsprong nie verskoon word nie!

Eietydse beoordeling

Ons moet ‘n noukeurige beoordeling van die wêreld van ons dag doen. As ons dit nie doen nie, en aangaan om propagandiste van die middel van die 20ste eeu na te praat, dan sal ons nog steeds voortgaan om hoofsaaklik twee of drie vyande van die Christendom en die vrye Weste te identifiseer, bv. kommunisme en Nazisme. Sommige van hierdie vyande is egter reeds gestorwe en begrawe, of hulle het die stokkie in die koninkryk van die duisternis se afloswedloop aan andere oorgegee.

Die grootste ideologiese vyande van ons tyd is humanisme, die Nuwe Era Beweging, die multigodsdienstig en internasionaal georienteerde nuwe wêreldorde saam met ‘n aatal selektiewe geheime organisasies wat dit rugsteun, die Vatikaan en die ekumeniese beweging, asook die Oosterse godsdienste. Hierdie gevare moet bespreek word sonder om ‘n oordrewe en eensydige heksejag teen Jode op tou te sit.

Terselfdertyd moet mens ook jou terminologie by ons tydsomstandighede aanpas. Hitler het die begrip “anti-Semitisme” gepopulariseer. Dit het Jodehaat veronderstel. Vandag tel die Arabiere onder die grootste Jodehaters, maar hulle is self ook Semitiese volke. Hulle beoefen dus beslis nie anti-Semitisme nie, maar anti-Sionisme, anti-Israelisme, of bloot net Jodehaat. Hulle hou niks van die naam “Israel” nie, erken dit trouens ook nie, en noem dié land “Palestina” of die “Palestynse staat”.

Toekomstige gebeure

Weldra gaan die belangrikste mens van alle tye, die Jood, Jesus Christus, die Heilige van Israel, wat ook die seun van God is, sy bruidsgemeente kom haal. Dan sal die uur van die duisternis aanbreek en sal ‘n ander Jood, die Antichris, beheer oor die nuwe wêreldorde verkry. Hy sal ‘n misleier wees wat homself as die ware Messias sal voordoen. Israel sal hom tot hulle latere groot droefheid aanvaar en navolg (Joh. 5:43). Ná ‘n kort tyd van valse vrede en eenheid op aarde sal hy die ergste skrikbewind van alle tye in die groot verdrukking voer.

Die Antichris sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Israel sal die eerste volk wees om hierdie aanspraak te verwerp en uit sy NWO te onttrek. Dit sal ‘n internasionale bedreiging vir die NWO inhou, en Israel sal hiervoor geblameer word. Jodehaat sal dan tot die grootste uiterstes van alle tye gevoer en ‘n Joodse volksmoord ook gelas word. Die Jode sal vinnig uit Jerusalem moet vlug na ‘n plek van bewaring in die woestyn (Matt. 24:15-22).

Wanneer die ware Messias sewe jaar later sy verskyning op die Olyfberg maak (Sag. 14:4-5) sal die ware en valse Christus vir ‘n kort rukkie teenoor mekaar staan. Die einde sal egter vinnig en beslissend vir die Antichris en sy mederegeerder, die valse profeet, aaanbreek wanneer hulle gevang en lewend in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20). God se nuwe wêreldorde van ‘n regering van geregtigheid onder die beheer van die ware Christus sal dan ingestel word en Israel die hoof van die nasies wees (Hand. 15:16-17; Jer. 31:7).

Die Israelvisieteorie is wesenlik in stryd met die Bybel. Dit kan nie reggestel word deur ‘n paar ‘toegewings’ te maak, bv. dat Jode en lede van die nie-blanke nasies gered kán word nie. Dit moet totaal verwerp word ten gunste van ‘n evangeliese belydenis waarin Israel se historiese, kontemporêre én toekomstige posisie erken en ook voorsiening vir die redding van alle nie-Joodse nasies in die hele wêreld gemaak word.

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.