Finale Voorbereidings om die Nuwe Era Christus te Ontvang

Finale Voorbereidings om die Nuwe Era Christus te Ontvang

Prof. Johan Malan.

Die Christendom ervaar ongekende aanvalle op sy basiese waarhede. Hierdie aanvalle word gemotiveer en gekoördineer deur bose magte wat daarop uit is om alle mense as ‘n voorspel tot die openbaring van die Antichris en die fisiese vestiging van Satan se koninkryk op aarde te mislei. Hulle grootste struikelblok is die Bybelse geloof in die godheid, soendood, opstanding en wederkoms van Jesus Christus. As gevolg hiervan neem aanvalle op die evangeliese Christendom toe, en dit word daarop gerig om die kanonieke boeke van die Bybel, en dus ook die God en Verlosser van die Bybel, in diskrediet te bring.

Toe die Here oor die tekens uitgevra is wat die nabyheid van sy wederkoms aandui, het Hy heel eerste die wydverspreide voorkoms van geestelike misleiding genoem: "Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei" (Matt. 24:4-5). Die baie mense wat deur baie valse leraars mislei sal word, dui op die algemene aanvaarding van ‘n veranderde siening wat mense in die eindtyd oor Christus sal huldig. Dit verklaar die ontstellende verskynsel waarom die hele wêreld verwonderd agter Satan se valse Christus sal aangaan (Op. 13:3). Dit sal ‘n verenigde, multigodsdienstige verering en aanbidding van die Antichris wees.

Hierdie uiterste vorm van misleiding sal bereik word wanneer die Antichris as die Christus verskyn en voorgee dat hy die universele Christus van alle gelowe is. Hy sal deur Satan bemagtig word om groot tekens en wonders te doen (2 Thess. 2:7-10; Op. 13:2), en hy sal ook ‘n valse vrede en eenheid op aarde instel (1 Thess. 5:3; Op. 13:3). Halfpad deur sy regering van sewe jaar sal hy die herboude tempel in Jerusalem betree en homself in uiterste selfverheffing tot God verklaar (2 Thess. 2:4).

Daar is verskillende vorms en vlakke van misleiding, waardeur Satan poog om mense van die geloof in en aanbidding van die ware God van die Bybel weg te trek. Wanneer hulle die waarheid verwerp het, raak hulle geestelik só verblind dat hulle vermoë om goed van kwaad te kan onderskei, vinnig na ‘n gevaarlike lae vlak afneem. Sulke mense huldig verwronge en totaal onbybelse beskouings oor Jesus, die Heilige Gees én die evangelie. Onder hulle is ook mense wat vroeër in Christus geglo het, maar daarna mislei is. Paulus sê:

"Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval" (2 Kor. 11:2-4).

In historiese tye is geestelike misleiding hoofsaaklik op die vervalsing van die beeld van Jesus en die werk van die Heilige Gees toegespits ten einde mense van die Bybelse grondslag van hulle geloof te ontneem. Tans word dit hoofsaaklik op die dekonstruksie van die Bybelse beeld en attribute van Jesus Christus gerig ten einde Hom aan die beeld van die Antichris gelykvormig te maak. Hierdie ander Jesus sal uit die koninkryk van die duisternis opkom, maar homself as die ware Jesus voordoen wat gekom het om die mensdom te red, te seën en te bemagtig om ryk en voorspoedig te wees. Voorbereidings is in ‘n gevorderde stadium om hom as die universele messias van alle gelowe te ontvang. Die getuienis oor die aard en omvang van hierdie beweging is baie sterk, soos hieronder aangetoon:

 ‘n Ander Jesus

Daar is verskeie onafhanklike inisiatiewe wat deur dieselfde gees van dwaling gedryf word, om die Bybelse beeld van Jesus te verdraai. Die volgende faktore speel ‘n baie groot rol:

‘n Liberale Skrifvertolking. Liberale, humanisties-gesinde teoloë respekteer nie die grondbetekenis van God se Woord nie - veral dié gedeeltes wat God se bonatuurlike ingryping in die lotgevalle van die mensdom beskryf - en besluit self watter ander betekenisse hulle daaraan wil koppel. Baie van hulle neem letterlike uitsprake oor die hemel, die hel, die duiwel, die Antichris, Israel, die duisendjarige vrederyk, asook God se eindtydse oordele, en gee dan heeltemal ander betekenisse daaraan as wat die Bybel doen. Hulle agnostiese ingesteldheid lei uiteindelik daartoe dat hulle die fondament van die verlossingsleer aanval deur duidelike Bybelse stellings oor die maagdelike geboorte van Christus, die geestelike betekenis van sy soendood, asook sy liggaamlike opstanding uit die dood, te ontken. Die beginpunt van hierdie ernstige misleiding is die verloëning van Christus se maagdelike geboorte. Indien Hy nie op ‘n wonderbaarlike wyse deur die Heilige Gees verwek is nie, kon Hy nie die eniggebore Seun van God wees wat bestem was om die Redder van die mensdom te wees, asook die Koning wat die wêreld in geregtigheid van die troon van Dawid af sal regeer nie (vgl. Matt. 1:20-21; Luk. 1:26-35; Hand. 15:16-17). Hierdie teoloë en hulle volgelinge eindig dus met ‘n ander Jesus wat menslik bedink en Satanies-geïnspireer is. Dié valse Christus het onbybelse attribute en word as een van verskeie goddelike figure in die misleide familie van wêreldgodsdienste voorgestel. Vir hulle is hy nie die unieke Seun van God wat die sondige gebruike van gevalle mense veroordeel en die nie-Christelike gelowe as valse instellings verwerp omdat hulle op die verering van die vader van die leuens ingestel is nie (vgl. 1 Kor. 10:20; 2 Kor. 6:14-18). Hierdie misleide mense berei die weg vir die koms van die Antichris voor (1 Joh. 2:22; 1 Joh. 4:3).

Die Jesus Seminaar. Die Jesus Seminaar wat in 1985 in die VSA gestig is, is ‘n ekstreme vorm van ‘n vinnig groeiende beweging wat op die verwerping van die Bybelse Jesus en die totale verdraaiing van sy goddelike beeld ingestel is. Hulle beskou meer as 80% van die getuienis oor Jesus in die vier Evangelies as histories foutief. Dit blyk uit hulle publikasie, The Five Gospels, waarby die gnostiese Evangelie van Thomas ingesluit is. In hulle pogings om die historiese Jesus voor te stel, stroop hulle die Bybelse Jesus van al sy goddelike eienskappe en maak van Hom slegs ‘n sterflike mens wat niks meer as ‘n gewone profeet was nie. Hulle huiwer nie om totaal godslasterlike stellings oor Jesus te maak nie. Tydens sy besoek aan die teologiese fakulteite van twee universiteite in Pretoria, het John Dominic Crossan van die Jesus Seminaar die kruisiging van Jesus ‘n daad van transendentale kindermishandeling genoem en gesê dat ons ‘n God moet haat wat sy Seun oorgelewer het om só ‘n wrede dood te sterf. Hy het gesê dat Jesus nooit begrawe is en ook nie uit die dood opgestaan het nie. Misdadigers wat deur die Romeine gekruisig is, se lyke is dikwels deur die honde gevreet. ‘n Ander lid van die Jesus Seminaar, prof. Marcus Borg, het tydens sy besoek aan SA gesê dat daar nooit ‘n vol graf was nie, en dus ook nie ‘n leë een nie, en bygevoeg: "Ek dink dit is baie moontlik dat Jesus se lyk deur honde gevreet is."

Hierdie lasterlike idees is geesdriftig deur vooraanstaande Suid-Afrikaanse teoloë wat lede van die Nuwe Hervorming is, aanvaar. Een van hulle, prof. Andries van Aarde, het ‘n boek, Fatherless in Galilee, geskryf waarin hy Maria as ‘n prostituut beskryf en vir Jesus as ‘n buite-egtelike kind wat deur ‘n Romeinse soldaat verwek is. Omdat Jesus na bewering ‘vaderloos' in Galilea was, het dit Hom glo daartoe gelei om oor ‘n hemelse Vader te fantaseer. Ten spyte van sulke openlike kettery is hierdie boek goed deur plaaslike teoloë aanvaar en ‘n hoogtepunt in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap genoem. Dié lede van die Jesus Seminaar en die Nuwe Hervorming wat tot ‘n mate erken dat Jesus ‘n goddelike inkarnasie was, is vinnig om aan te toon dat Hy nie die enigste inkarnasie van God is nie. Godsdiensleiers soos Boeddha word ook as inkarnasies van die Heilige gesien. Al hierdie dinge is ‘n aanduiding dat die openbaring van die valse Christus sekerlik baie naby moet wees.

Herlewing van die gnostiese Evangelies. In pas met die moderne neiging om Jesus na die vlak van ‘n sterflike mens en gewone profeet af te bring, is daar tans ‘n nuwe belangstelling in die gnostiese Evangelies. Sedert die tyd van die vroeë Christelike kerk is teologiese ontwikkeling sterk deur die filosofie beïnvloed. Aanvanklik was dit die heidense Griekse filosofie van Plato wat die grootste invloed op teologiese denke uitgeoefen het. Sedert die eerste eeu het gnostisisme saam met evangeliese opvattings oor die godheid en inkarnasie van die Here Jesus ontwikkel. Hierdie filosofie is van die begrip "gnosis" afgelei ("kennis van geestelike verborgenhede") en leer dat kennis, eerder as geloof, die sleutel tot redding is. Hierdie denkrigting het tot in die sesde eeu groot aanhang geniet, en was in dié tyd vir die verdraaiing van verskeie teologiese begrippe verantwoordelik. Die gnostieke liefde vir die wysheid het sy vorming in die mistiese beskouings van Plato gehad, asook sy godsbegrip van die "Absolute" wat nie met die Bybelse Drie-eenheidsbegrip versoenbaar is nie. Nadat dit met Christelike idees vermeng is, is geredeneer dat daar wel ‘n enkelvoudige Skeppergod is, naamlik die Vader, maar dat Hy Jesus as ‘n laer orde God, of selfs as ‘n engel, geskape het. Dit was ‘n groot aanslag op die godheid en inkarnasie van die Here Jesus. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary, 1983: 677) sê: "Beide Christus se godheid en menslikheid is deur hierdie vroeë gnostiese kettery bevraagteken. Daardie ketters het Jesus verlaag tot op die vlak van ‘n engel wat slegs ‘n oënskynlike maar nie ‘n werklike liggaam gehad het nie." Paulus het egter die Here Jesus se godheid, asook sy volkome menswording, verdedig: "In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik" (Kol. 2:9). Hy is volkome God en ook volkome mens.

Die groot openbare aanhang wat deur valse, apokriewe Evangelies soos Die Evangelie van Judas geniet word, asook ander vervalste weergawes van Jesus se lewe, is kenmerkend van hierdie tyd van groot misleiding kort voor die aanbreek van die nuwe dispensasie van die Antichris se regering op aarde. Net voor die Paasfees van 2006 het die National Geographic Society aangekondig dat hulle die verlore Evangelie van Judas ontdek het, waarin die kanonieke Evangelies se weergawe van Judas en sy verraad teen Jesus weerlê word. Daar is selfs in die pers aansprake gemaak dat dit die grootste ontdekking van die eeu is, en na ‘n herwaardering sal lei van Christelike opvattings soos wat ons dit ken. Die hoofopskrif in USA Today het gelui: "Die lank verlore Evangelie van Judas stel hierdie ‘verraaier' in ‘n nuwe lig." Die Evangelie van Judas stel vir Judas in ‘n positiewe lig voor as die enigste dissipel wat waarlik vir Jesus verstaan het, en Hom slegs verraai het omdat Jesus Hom self versoek het om dit te doen. Jesus wou glo verlos word van die beperkings wat sy menslike liggaam op Hom geplaas het. Die gnostiese Jesus wat in die Evangelie van Judas beskryf word, is nie die almagtige God en Skepper van die wêreld nie, hy het nie vir die mensdom se sonde gesterf nie en ook nie liggaamlik uit die dood opgestaan nie. Dit is hoegenaamd nie ‘n evangelie nie.

Die Da Vinci-kode. Een van die moderne platforms wat gebruik word om mense van die valse, gnostiese Evangelies bewus te maak, is Dan Brown se boek, Die Da Vinci-kode, asook ‘n rolprent met dieselfde titel. Hierdie boek is op getuienis gebaseer wat uit die gnostiese Evangelies kom, en dit word as ‘n ware weergawe van Jesus en sy aardse lewe voorgehou. Die godheid van Jesus en die betroubaarheid van die kanonieke Evangelies word deurgaans bevraagteken. Jesus word as ‘n sterflike mens beskryf wat met Maria Magdalena getroud was, en hierdie bewerings laat twyfel oor die egtheid van die Nuwe Testament ontstaan. Die wêreld soek nog altyd na bewyse dat die Bybel nie die Woord van God is nie. Wetenskaplikes en navorsers soek na geldige redes om die eise van die Skrif te verwerp. Die publiek is honger vir sulke inligting. Indien die Bybel nie die Woord van God is nie, is mense vry om hulle eie lewenstyl en gedragspatrone te kies sonder vrees vir straf in hierdie lewe óf in die hiernamaals.

Die Da Vinci-kode was sedert sy eerste uitgawe in 2003 op verskeie lande se beste verkoper-lyste, insluitend 87 weke bo-aan die New York Times se beste verkoper-lys. Wanneer mens hierdie boek lees, is dit duidelik dat Brown geskiedenis en fiksie laat saamvloei, en daardeur skep hy die indruk dat die Christendom op ‘n leuen gebaseer is. Watter bewyse bied hy aan? ‘n Gnostiese Evangelie en Leonardo Da Vinci se skildery van die Laaste Avondmaal. Hy maak die foutiewe bewering dat die persoon wat op die skildery langs Jesus sit, ‘n vrou is, naamlik Maria Magdalena. Die sentrale bewering wat Brown in sy verhaal oor die Christelike geloof maak, is dat omtrent alles wat ons oor Jesus geleer het, vals is. Daardeur ondersteun hy die aansprake van ketters en afvalliges. In Mei 2006 is ‘n film oor Die Da Vinci-kode vrygestel. In die eerste vier dae alleen het dit $224 miljoen (omtrent 1½ miljard rand) wêreldwyd in teaters verdien.

Die verhaal begin by die moord op ‘n bejaarde kurator van die Louvre, die wêreldberoemde museum in Parys, Frankryk. Die kurator bewaar ‘n geheim wat, indien dit openbaar gemaak sou word, die fondamente van die Christendom omver sou werp. In die oomblikke voor hy gesterf het, het hy ‘n aantal numeriese en kriptografiese aanduidings nagelaat wat die kode van hierdie noodlottige geheim sou ontsluit. Die ondersoek na die moord het ‘n aantal raaiselagtige leidrade opgelewer wat na die Heilige Graal sou lei. Dit het duidelik geword dat die Graal nie die beker is waaruit Jesus  tydens die Laaste Avondmaal gedrink het nie. Die ware Graal is volgens die boek Maria Magdalena wat die bloed van Jesus in haar baarmoeder gehad het toe sy aan Jesus se kinders geboorte geskenk het. Verder word daar in die boek beweer dat Maria Magdalena se reputasie as ‘n prostituut deur kerkleiers uitgedink is om haar invloed in die vroeë kerk, en ook die status van vroue in die algemeen, te ondermyn. Die werklike verhaal is glo deur ‘n geheime organisasie, die Kloosterorde van Sion, bewaar, waaraan verskeie beroemde Europeërs, soos onder andere Leonardo Da Vinci, behoort het.

Die Da Vinci-kode is een van verskeie godslasterlike Hollywood-films wat op die vernietiging van Jesus se Bybelse beeld ingestel is. Die bal is aan die rol gesit deur films waarin Jesus as ‘n sondaar voorgestel word, bv. Jesus Christ Superstar, Jesus of Montreal en The Last Temptation of Christ. Deur hierdie films is die toneel vir "die mens van sonde" (2 Thess. 2:3) voorberei, wat spoedig sy verskyning in die naam van die ware Jesus sal maak.

Die Nuwe Era Christus. Die drie oppergode in die Nuwe Era Beweging is: (1) die universele God van alle gelowe, (2) die kosmiese Christus, en (3) Lucifer. In sy boek, Reflections on the Christ, het die hoof van Planetary Citizens, David Spangler, ‘n hoofstuk met die titel, Lucifer, Christ and God ingesluit. Hierin word aan Lucifer ‘n belangrike rol in die bewussynsontwikkeling van die mens toegeskryf:

"Toe die mens die pad van selfverwesenliking ingeslaan het, het hy met ‘n kreatiewe avontuur begin... Hy kan sê dat hy die volle verantwoordelikheid aanvaar het vir wie en wat hy is. In hierdie opsig is hy vry. Lucifer is die wese wat die mens help om hierdie punt te bereik. Hy is die engel van menslike evolusie. Hy is ook die mens se innerlike lig. Lucifer is die gees van lig in die mikrokosmos. God is die gees van lig in die makrokosmos, en Christus is die brug tussen hierdie twee, wat vryheid van manifestasie aan die mens verleen... Lucifer werk in almal van ons om ons tot volkomenheid te lei. Terwyl ons die Nuwe Era tegemoet gaan, wat die era van die mens se ware volkomenheid en onverdeeldheid is, kom elkeen van ons by die punt in ons lewe wanneer ons ‘n Luciferiese inisiasie moet ontvang. Deur hierdie ondervinding tree ons tot die fase van lig en volkomenheid in ons lewe toe."

Die komende intergeloofschristus sal die hoogste inkarnasie van die god van hierdie wêreld wees en geesdriftig deur die misleide massas as die gemeenskaplike Messias van alle gelowe aanvaar word. Nominale Christene en ortodokse Jode sal geen probleem hê wanneer die kosmiese Christus ná sy openbaring ook na die ander gelowe uitreik om hulle agter hom te skaar nie. Moslems verwag dat die profeet Jesus, wat nie God is nie, spoedig sal verskyn en ten nouste met die Imam Mahdi, ‘n afstammeling van Mohammed, sal saamwerk. Hindoes wag vir ‘n Jesus wat volgens hulle ‘n eindtydse inkarnasie van Vishnu en Krishna sal wees. Boeddhiste stel die komende Christus met die vyfde Boeddha gelyk. Volgens die Nuwe Era Beweging sal Lucifer in die harte van mense werk om die universele Christus te aanvaar, terwyl hulle gemotiveer sal word om self ook christusse, of gode, te word.

‘n Ander gees

Satan se gees van dwaling (vgl. 1 Joh. 4:6) is aktief in die wêreld aan die werk om mense se sinne vir die waarheid van die evangelie te verblind. Hy lei hulle na mistiese ervarings en bemagtig hulle om deur okkultiese kragte tekens en wonders te doen. Die groot aantal demone wat Satan tot sy beskikking het, is bose geeste wat uitgestuur word om mense te mislei en sodoende die belange van die koninkryk van die duisternis te bevorder. Die volgende metodes wat deur hierdie geeste gebruik word, is in ons tyd baie algemeen:

Vreemde verskynsels. Die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde valse godsdienste vestig die aandag op die ontdekking en gebruik van wonderwerkende okkultiese kragte van genesing, en hulle bevorder ook verskeie bonatuurlike manifestasies. Selfs by Christelike byeenkomste word vreemde verskynsel sal hoe meer algemeen, bv. "val in die gees." Dit het verskeie wanordelike uitvloeisels soos dans in die gees, lag in die gees, profeteer in die gees, dronk word in die gees, asook die nabootsing van ‘n groot aantal dieregeluide soos blaf, brul en kraai. Tans word sg. "nuwe wyn" byeenkomste gehou waartydens tipiese simptome van dronkenskap ervaar word, saam met baie ander vreemde manifestasies soos goudstof op mense se hande, in hulle hare, en tandestopsels wat na bewering in goud verander. Die aansprake oor sulke twyfelagtige verskynsels en buitengewone gedrag wat aan die Heilige Gees toegeskryf word, is godslasterlik, beledigend teenoor die Gees van God en nadelig vir die Christelike getuienis in die wêreld. Dit is nie moeilik om te sien hoedat dit Satan se doel uitstekend pas om die Christelike geloof in onguns te bring en soveel as moontlik mense te mislei nie. Die uitdruklike doel van misleidende geeste is om Christene se geloof te vernietig deur hulle op ‘n dwaalspoor te lei, te verwar, te oorskadu en deur die krag van die dwaling te mislei.

‘n Nuwe spiritualiteit. Die misleidende gees van Satan boots die Heilige Gees na en vestig ‘n nuwe soort spiritualiteit in mense. Dit is ‘n gees van hoogmoed en arrogansie wat jou baie belangrik en magtig in jou eie oë maak as gevolg van die gawes wat jy ontvang het, die erkenning wat jy geniet, die groot invloed wat jy oor ander mense het, en ook weens jou rykdom. Die teenwoordigheid, krag en gawes van hierdie gees word die oorheersende werklikheid in jou lewe, terwyl Jesus subtiel na die agtergrond verskuif word. Dié gees laat jou lekker en ontspanne voel sodat jy al jou probleme kan vergeet en dink dat alles reg is. Hy oortuig jou nie van sonde nie, en het geen probleem om met leuens, bedrog, immorele dade en halwe waarhede saam te leef nie. Hy gee juis aan sulke mense die valse hoop dat hulle gered is en hemel toe gaan. Hy gebruik ‘profete' as menslike middelaars om boodskappe aan jou te rig oor wat God wil hê dat jy moet doen. Hy spesialiseer ook in buite-Bybelse openbarings van God deur drome en visioene. Hy verdryf in eie reg die duisternis en skuldkomplekse uit jou lewe sonder enige verwysing na die kruis, en hy omring jou met vreugde en lig. Jy is dus van hom afhanklik om jou te verander. Hy wil jou deur middel van innerlike genesing na ‘n geestelike herprogrammering lei waarin die letsels van die verlede, en selfs van voor jou geboorte, deur positiewe belydenis, hipnotiese regressie en die breek van bloedlynvloeke reggestel word.

Hierdie nuwe spiritualiteit is misties. Mense word geleer om deur meditasie, die bewandeling van labirinte en die beoefening van ander mistiese tegnieke soos joga, na hulle ‘regterbrein' oor te skakel. Hulle maak hulle gedagtes leeg deur die gebruik van mantras (die aanhoudende herhaling van ‘n enkele woord of ‘n kort sinsnede) wat hulle help om na dieper vlakke van hulle onderbewussyn af te daal waar hulle ‘n alternatiewe bewussynstoestand kan ervaar. In hierdie geestelike toestand ontmoet sekere mense geestelike gidse wat hulle leer en begelei, terwyl ander weer stemme hoor wat met hulle praat. Daar is ook diegene wat bonatuurlike gawes ontvang soos profetering, genesing, talespreek, astrale reise, heldersiendheid en die vermoë om wonderwerke te kan doen.

Hierdie gees maak jou wys dat jy nou reeds ‘n koning is wat oor die wêreld moet heers, en dat jy enigiets kan eis wat jy wil. Jy hoef nie arm en siek te wees of deur enige beproewing geteister te word nie, want jy kan enige onaangename ervaring deur positiewe belydenis verander. Jy is in beheer van jou lewe. Dié gees motiveer mense om transformasiebyeenkomste te reël as ‘n metode om God se koninkryk op aarde te laat kom. Hy laat sy slagoffers ook glo dat hulle demoniese vestings deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering in enige samelewing kan neerwerp. Hulle het egter nog geen sukses hiermee bereik nie, want Satan sal eers tydens die wederkoms van Christus in ‘n put gebind word (Op. 20:1-3). In hierdie bedeling kan slegs individue van satansmag bevry word - nie hele stede of lande nie!

Berit Kjos het ‘n vergelykende tabel gepubliseer waarin sy die verandering van evangeliese oortuigings af na die nuwe spiritualiteit aantoon: www.crossroad.to/charts/new-spirituality.htm Hieruit is dit duidelik dat die geestelik verblinde mensdom van mistiese kragte gebruik maak om goddelik te word, hulleself te verenig en beheer oor hulle eie lewens uit te oefen. Mense ontdek ‘n mistiese ‘christus' in hulle eie harte (die ‘god' binne-in hulle), en dit is hy wat hulle aanspoor om beheer oor die wêreld oor te neem.

The Secret (Die Geheim). Moderne tye word deur ‘n sterk oplewing van geheime kragte uit die antieke wêreld gekenmerk. In haar boek, The Secret, sê Rhonda Byrne dat die verspreiding van die Christendom daartoe gelei het dat die verbode magte wat agter magiese gebruike is, ondergronds gegaan het. Hulle het hulleself in geheime organisasies en okkultiese ordes verberg, tot in die laat 20ste eeu toe die belangstelling in mistiese kragte uit die verlede weer onder Bybels ongeletterde lede van postmoderne samelewings opgeleef het. Hierdie nuwe belangstelling in okkultiese magte stel mense in staat om wonderwerke te kan doen. Die skryfster sê dat as jy begin om die verborge kragte te verstaan wat latent in jou aanwesig is, hierdie openbaring vreugde in elke aspek van jou lewe kan bring, insluitend jou geldsake, jou verhoudings en jou gesondheid. In haar artikel, A New Mask for an Ancient Secret (Feb. 2007), sê Berit Kjos: "Donker, Luciferiese leerstellings het nou weer, soos in antieke tye, skynende ligte in post-Christelike kulture geword wat deur valse apostels en bedrieglike arbeiders geïnspireer word - diensknegte van Satan wat homself as ‘n engel van die lig voordoen. The Secret bied aan liggelowige mense alles onder die son: daar is nie ‘n enkele ding wat hulle nie deur hierdie kennis kan verkry nie. Dit maak nie saak wie of wat jy is nie, The Secret kan aan jou gee wat jy wil hê. Die wet van aantrekking is die wet van skepping... jy kan jou lewe deur jou gedagtes bepaal. Met hierdie kragtige kennis kan jy elke omstandigheid en gebeurtenis in jou hele lewe verander."

In sy artikel, The Secret Seduction (Junie 2007), sê Dave Hunt: "The Secret is die jongste okkultiese bedrogspul wat die verbeelding van die Weste aangegryp het. Die boek met hierdie titel is ‘n topverkoper op die New York Times se lys. Daar is sommer gou meer as ses miljoen kopieë daarvan verkoop, asook twee miljoen kopieë van die dvd... Die talle wanvoorstellings in die boek begin met die titel self. The Secret is hoegenaamd nie ‘n geheim nie, maar ‘n nuwe verpakking van Hindoeïsme, sjamanisne (toorkuns) en Nuwe Era misleiding. Een van die baie leuens hiervan is: ‘jy kan jou eie werklikheid deur jou gedagtes skep.' Dit was die slang se valse belofte aan Eva: die belofte van godheid (Gen. 3:5). Die aanvaarding van hierdie leuen het Eva en haar nageslagte die paradys gekos, en dit sou die hele mensdom van die hemel uitgesluit het as Christus nie vir die sondes van die wêreld gesterf het nie. In die 6000 jaar sedert Eden is hierdie belofte nog nie in een persoon se lewe vervul nie."

Die geestelike boodskap van hierdie boek impliseer duidelik dat God uitgedien is en dat werklike geestelike bemagtiging nie in die Bybel nie, maar in The Secret gevind kan word. Die populariteit van hierdie boek in die wêreld is verbysterend. Dit is ‘n aanduiding van die wye belangstelling in okkultiese ideologieë en gebruike waardeur die gevalle mens opgehef kan word na ‘n posisie waarin hy die bepaler van sy eie lotgevalle word. Wanneer hy sy eie god is, is alles toelaatbaar - insluitend elke denkbare soort sonde. Met hierdie ingesteldheid sal mense gewillige volgelinge wees van "die mens van sonde... wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid" (2 Thess. 2:3-12).

‘n Kursus in wonderwerke. In pas met die toenemende belangstelling in magiese, okkultiese kragte wat dikwels in ‘n ‘Christelike' verpakking aangebied word om meer mense in Westerse samelewings te mislei, word ‘n kursus in wonderwerke in boeke en op Internet webwerwe aangebied, asook deur beroemde persone soos Oprah Winfrey aanbeveel. Op haar daaglikse radioprogram bied Oprah ‘n jaar lange kursus in die Nuwe Era Christus uit die Course in Maracles Workbook aan. Diegene wat die kursus voltooi het, sal totaal veranderde gedagtes hê - ‘n Nuwe Era wêreldbeskouing wat die oortuiging insluit dat daar nie sonde, boosheid of ‘n duiwel is nie, en dat Jesus nie aan die kruis vir ons sonde gesterf het nie. Dit word in die kursus beklemtoon dat ons in Christus nie onder die wet is nie, daarom is niks wat ons doen, onwettig nie. ‘n Verwronge soort vergewensgesindheid word verkondig, wat die wêreld se manier is om eenheid en genesing sonder die kruis te verkondig. Oprah het aan haar gehoor vertel dat Williamson se boek, A Course in Miracles, een van haar gunsteling boeke is, en dat sy ‘n duisend kopieë aangekoop het om aan die besoekers in haar ateljee-program te skenk. Oprah se aanbeveling van die boek het daartoe gelei dat dit tot bo-aan die New York Times se besteverkoper-lys geklim het. A Course in Miracles is aanvanklik in 1977 deur ‘n spiritistiese kanaliseerder, Helen Schucman, by haar geestelike gids gekry wat homself "Jesus" genoem en die inhoud van die boek aan haar gedikteer het.

The Miracle Times (www.themiracletimes.com) sê op hulle webblad: "Die kursus in wonderwerke is ‘n boodskap aan jou uit die opgestane hart van Jesus Christus van Nasaret. Dit is ‘n ervaringsgids om jou te help om die verligting van jou verstand en liggaam deur die praktiese toepassing van liefde, genesing en vergewensgesindheid te verkry." Hulle definieer inspirasie soos volg: "Inspirasie verwys na ‘n goddelike invloed of aksie op ‘n persoon waardeur hy gekwalifiseer word om heilige openbarings te ontvang en te kommunikeer. Wat is jou kwalifikasie? Jy is die heilige Seun van God self! Jy moet net onthou wie jy is. Dit is jou doel om andere te inspireer." Die werklike outeur van A Course in Miracles word beskryf as: "Meester Jesus, wat die manifestasie van die Heilige Gees is... Hy is volkome een met die Christus, die Seun van God." Mense word in hierdie kursus beïnvloed om hulleself as sondeloos te sien: "Kyk na die lig rondom jou... jy is volmaak soos wat God jou geskape het." Mense word opgeroep om positiewe denke, vergewensgesindheid, liefde en positiewe belydenis te gebruik om hulle lewens kreatief deur middel van wonderwerke te verander.

Die Moses-kode. Die wêreldwye veldtog van misleiding wat deur Satan se gees van dwaling voortgedryf, deur die media gepopulariseer en deur beroemde persone bevorder word, is een stap verder gevoer deur die publisering van James Twyman se boek, The Moses Code (Die Moses-kode). Hierdie boek, sowel as die film wat op die boek gebaseer is, verhef die gevalle mens tot by die posisie wat Lucifer ingeneem het toe hy homself openlik in die hemel vergoddelik het. Hy het gesê: "Ek wil klim op die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!" (Jes. 14:14). Die skrywer bied aan mense ‘n geheime kode wat hulle lewens dramaties van armoede en middelmatigheid af na voorspoed, koninklikheid en oorvloed sal verander. Dit sal gebeur wanneer hulle aan hulself kan sê: "EK IS." Hierdie kode is by die brandende doringbos in die woestyn aan Moses geopenbaar, en dit het hom in staat gestel om ongekende wonderwerke te kan doen.

Die boek word soos volg deur die uitgewers aanbeveel: "Twyman beskryf die mees kragtige manifestasie-tegniek wat ooit aan die mensdom bekend was, maar wat vir byna 3500 jaar verborge gehou of geïgnoreer was. Hierdie kragtige tegniek was vir sommige van die beroemdste en skouspelagtigste wonderwerke in die geskiedenis van die wêreld verantwoordelik. Waarom is hierdie kode geheim gehou nadat dit die wêreld verander het die paar keer toe dit gebruik is? Dit is moontlik dat hierdie tegnologie só kragtig is dat ons voorvaders besluit het dat die mensdom nog nie gereed was om soveel krag uit te oefen nie. Wanneer die Moses-kode reg toegepas word, kan dit aan jou enigiets gee wat jou hart begeer. Wanneer groot groepe mense die kode gelyk gebruik het dit die vermoë om ‘n wêreld tot stand te bring waarin meegevoel en vrede heers. In die eerste hoofstuk sal jy leer wat die Moses-kode is en waarom dit vandag so belangrik is. In hoofstukke 2 en 3 sal jy die tegnieke leer oor hoe om die kode in jou eie lewe én in die wêreld toe te pas. In kort, hoofstukke 2 en 3 sal jou leer hoe om jou lewe te verander, asook die lewens van diegene rondom jou.

Die volgende is ‘n uittreksel uit hoofstuk 1: "Jy ken seker die storie van Moses wat die Hebreërs uit Egipte gelei het. Dit was ‘n uitstaande prestasie deur hom wat begin het waar hy voor die brandende doringbos gestaan het om na God se stem te luister. Die vraag is egter of ons al die dieper boodskap gehoor het wat nie net aan Moses gekommunikeer is nie, maar aan elkeen van ons. Is dit moontlik dat daar iewers in hierdie storie ‘n kode versteek is, ‘n geheim wat aan ons die mag kan gee om alles te laat gebeur wat ons begeer? Kan hierdie geheim dalk die kragtigste geskenk wees wat God ooit aan die wêreld gegee het? Wat is dit wat jy die graagste wil hê? Oorvloed, ‘n sielsgenoot, die volmaakte huis of ‘n droommotor? Het Moses van God die geheim ontvang oor hoe al jou drome en begeertes maklik en outomaties ‘n werklikheid kan word? Indien wel, is dit vir jou moontlik om hierdie geheim vandag en vir jou hele lewe lank te gebruik om dít te verkry wat die res van die wêreld as wonderwerke sal beskou?"

Dit word verder verduidelik dat God vir Moses uit die brandende doringbos geroep het en hy het gereageer deur te sê: "Hier is ek." Hy het op heilige grond gestaan toe hy gesê het: "Hier IS EK" (Eng. "Here I AM). Die skrywer gaan dan voort: "Dit is amper of die Here vir hom glimlag en sê: ‘Baie goed, Moses, jy kan inderdaad sê EK IS. Hierdie grond is heilig, want dit is die plek waar jy ontdek het wie jy werklik is.' Jy mag dalk dink: ‘Wag ‘n bietjie, sê jy dat God bly was omdat Moses homself as een met God erken het?' Die antwoord is JA!!! Vir duisende jare is daar ‘n leuen aan ons verkondig, en hierdie leuen het in die hele wêreld na die onderdrukking en verwerping van die Moses-kode gelei. Daar is aan ons vertel dat ons swak en nietig is en nie die vermoë het om meer as net ‘n karige bestaan op aarde te voer nie. As ons gelukkig is, sal ons dalk ‘n redelike mate van gemak ervaar, miskien ‘n paar huise en ‘n vet bankrekening hê, maar al hierdie dinge sal ons nie regtig bevredig nie. Ons is net hier om te lewe en te sterwe, met hopelik ‘n paar oomblikke van vreugde tussenin. Ons sien onsself in ‘n tronk waaruit ons nooit kan ontsnap nie, en het onsself oortuig dat die gevangenisterrein ons werklike tuiste is. Wat daarvan as die seldeur dalk nooit gesluit was nie? Wat daarvan as die wêreld waarin ons leef niks meer as ‘n projeksie van ons eie gedagtes oor onsself is, en dat God nooit hierdie visie met ons gedeel het nie? Indien God almagtig is, alwetend en ten volle teenwoordig in elke oomblik en vorm van ons bestaan, is dit nie moontlik dat Hy bly sal wees as ons die waarheid ontdek nie? Wag net ‘n oomblik voordat jy antwoord. Jou reaksie sal die hele aard van jou lewe bepaal, asook jou gewilligheid om alles te ontvang wat die Here vir jou wil gee. Jou antwoord sal bepaal hoe oop jy is om wonderwerke te ontvang en die Moses-kode te ontsyfer." Die skrywer sê verder dat God vir Moses beveel het om die Hebreërs uit die slawerny van Egipte na die Beloofde Land te lei waar hulle in oorvloed sou leef. Hy sê dat dieselfde belofte op ons van toepassing is, ook op die materiële terrein van ons lewens. Daar wag ‘n lewe van oorvloed en rykdom op ons.

In hulle e-nuusbrief van 4 Maart 2008 sê Lighthouse Trails: "Die Moses-kode - die volgende stap na ‘n wêreldwye ontwaking: Op 5 April word die Moses-kode film op ‘n unieke, wêreldwyd gekoördineerde wyse vrygestel, slegs ‘n paar weke ná die vrystelling van die boek met dieselfde titel. Die boek en film sal waarskynlik beste verkopers word, met die verwagte bevordering daarvan deur Oprah Winfrey en ander invloedryke persone. Die boek en film volg op verlede jaar se vrystelling van The Secret, wat vir 59 weke lank op die New York Times se beste verkope-lys was. The Secret is ‘n boek en film met ‘n soortgelyke boodskap wat ook sterk deur Oprah aanbeveel is. Beide projekte fokus op die feit dat die mensdom goddelik is en dat ons die vermoë het om ons persoonlike lewens, én ook uiteindelik die hele wêreld, te verander deur die verborge kragte wat hierdie films en boeke openbaar."

Die Moses-kode verteenwoordig selfvergoddeliking en voorspoed in sy mees uiterste vorm. Dit gaan egter verder en bied hierdie geheime kode ook as ‘n oplossing vir die wêreld se probleme van verdeeldheid, vyandigheid en lyding aan. Die versekering word gegee dat indien duisende mense op dieselfde tyd vergader, hulle posisie as gode en mede-skeppers inneem en hulle positiewe gedagtes op probleemareas soos die Midde-Ooste fokus, alle dinge ten goede sal verander.

‘n Ander evangelie

Die aanmatigende en openlike verkondiging van ‘n ander Jesus onder die beïnvloeding van ‘n ander gees het reeds ‘n wêreldwye verskynsel geraak. Predikers, politici en beroemde persone wat ‘n baie groot aanhang geniet, vat hande om die goddelike natuur van die mensdom te vier, die vlak van mense se bewussyn te verhoog, wêreldvrede en eenheid te bevorder, en ook voorspoed en goeie gesondheid vir almal te verseker. Die volgende is populêre temas vir prediking:

Ekumenisme. Die idee word algemeen gehuldig dat godsdienstige globalisme die sleutel vir die openbaring van God se koninkryk op aarde is. Dit sal eenheid, voorspoed en vrede oor ‘n verdeelde mensdom laat neerdaal. Volgens hierdie benadering moet die verdeeldheid van die Christendom in baie verskillende denominasies deur die vestiging van mega-gemeentes teëgewerk word wat nie baie duidelike en rigiede geloofsbelydenisse het nie, en waarin die Bybel nie as die foutloos geïnspireerde Woord van God aanvaar word nie. Mega-gemeentes moet dan in post-denominasionele stadskerke opgaan wat onder die leierskap van profete en apostels funksioneer. Daarna moet streeks-, nasionale en internasionale bande geskep word om die kerk in wyer verbande te verenig. Gesamentlike aksies soos transformasie-byeenkomste of meditasie-sessies moet gereël word om die geestelike krag te genereer waardeur boosheid oorkom en ‘n nuwe toekoms vir alle samelewings geskep kan word. Hierdie benadering berus op die filosofie van die Nuwe Era Beweging. Hulle glo dat wanneer ‘n groot, verteenwoordigende groep mense wat in hulle eie goddelikheid glo, bymekaarkom om saam te mediteer, die skaal weg van boosheid en verdeeldheid af sal swaai om die betrokke gemeenskappe in ‘n mistiese eenheid in te trek en sodoende die wêreld te genees.

Die vereniging van die Christelike kerk is egter net ‘n interim doelwit wat die weg na multigodsdienstige ekumeniese bande baan - ‘n alliansie van wêreldgodsdienste waarin die lede van alle gelowe hande vat onder die veronderstelling dat hulle dieselfde God aanbid. Dit spreek vanself dat indien hulle glo dat hulle dieselfde God aanbid, hulle ook vir dieselfde universele Christus wag om hulle finaal te verenig. Wanneer hy gekom het, sal geen verdeeldheid en weerspannigheid geduld word nie, omdat alle mense verplig sal word om hom te aanbid (Op. 13:3-4,8,15).

Ekumenies-gesinde predikers van misleide mega-kerke berei die weg vir die komende universele Christus van die Nuwe Era Beweging voor. Die vaagheid van hulle leerstellings, die onkunde van hulle lede en die sterk invloed van postmoderne denke laat hulle toe om ‘n ander Jesus te verkondig wat in vele opsigte van die Bybelse Jesus verskil. Hulle maak Jesus sonder veel weerstand en feitlik onopmerklik aan die Nuwe Era Jesus gelykvormig deur bloot sy uniekheid, die heilswaarde van sy kruisdood, asook sy eis van bekering, te verswyg. Hulle beklemtoon slegs sy doel om mense te seën, te verenig, en te inspireer om hulle volle potensiaal te verwesenlik sodat hulle gelukkig en voorspoedig kan wees in alles wat hulle doen. Dit word ook beklemtoon dat Jesus die mensdom wil bemagtig om God se koninkryk op aarde te vestig en verder uit te brei.

In lande waar daar egter nog ‘n betekenisvolle aantal evangeliese Christene is, soos bv. in die VSA en Suid-Afrika, wy ekumenies-gesinde teoloë hulleself eers aan ‘n meedoënlose veldtog om die Bybelse Jesus te belaster en te diskrediteer deur Hom na die vlak van die sg. "historiese Jesus" af te trek wat slegs een van baie menslike profete was. Hierna sal hulle geestelik ontwortelde en ontnugterde volgelinge aan die kosmiese Jesus van die ontluikende nuwe wêreldorde voorgestel word, waardeur hulle in die multigodsdienstige strukture van die ekumeniese beweging ingetrek sal word.

Koninkryksteologie. Die boodskap wat deur die opkomende kerk verkondig word, is dat hulle geroep is om beheer oor die wêreld oor te neem deur die koninkryk van God fisies, tot die voordeel van almal, in te stel. Die Discernment Research Group het ‘n groot aantal goed nagevorsde artikels hieroor gepubliseer in http://herescope.blogspot.com Kyk ook na Sarah Leslie se uitstekende artikel: Dominionism and the rise of Christian imperialism op www.discernment-ministries.org/

Die Herescope webblad bied interessante uittreksels uit ‘n artikel deur C. Peter Wagner aan, waarin hy sê: "Ons moet weer na een van die bekendste Bybeltekste kyk: ‘Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was' (Luk. 19:10). In die verlede het ons gedink Jesus het gesê: ‘...om te soek en te red diegene wat verlore was,' en gevolglik die teks op die redding van siele toegepas. Nou besef ons egter dat ons die teks meer letterlik moet opneem, naamlik net ‘wat verlore was.' Wat is dit wat verlore was en wat Jesus gekom het om te red en te herstel? Die antwoord is in die eerste hoofstuk van Genesis. God se oorspronklike plan was dat Adam en Eva heerskappy oor God se hele skepping moes hê (Gen. 1:28). Hulle was egter ongehoorsaam aan God en het hulle gesag verloor. Satan het dit ingepalm en sodoende die god van hierdie wêreld geword. Sy koninkryk sluit al die menslike koninkryke op aarde in (Luk. 4:5-6). Waarom het Jesus gekom? Hy het met sy koninkryk gekom, naamlik die koninkryk van God, om die koninkryk van Satan aan te val met die oog daarop om die heerskappy terug te neem wat in die Tuin van Eden verloor is. Die Heilige Gees praat nou met die kerke en sê dat hulle die nodige stappe moet neem om die samelewing in elke afdeling daarvan te transformeer totdat God se koninkryk op aarde gesien kan word soos wat dit in die hemel is" (C. Peter Wagner: Transform Society! Global Prayer News, Vol. 6, No. 3, Julie-Sept. 2005).

Herescope bespreek ook Rick Joyner se artikel, The true soldiers of the cross are mobilizing, waarin hy sê dat dwang gebruik sal word om God se koninkryk in te stel, en dat groter vryhede eers later toegelaat sal word: "Aanvanklik sal dit na totalitarisme lyk terwyl die Here die gees van die Antichris uitroei wat nou die wêreld oorheers... Hy sal baie volke soos erdewerk verbrysel." In navolging van hierdie idee het verskeie koninkryksteoloë ‘n strategie bepaal om die sogenaamde reuse van ongeloof, armoede, siekte, ongeletterdheid en selfgesentreerde leierskap deur sterk optrede te oorwin. ‘n Transformasie wat deur markkragte van die moderne wêreldekonomie gedryf word, is die belangrikste metode wat hulle wil gebruik om negatiewe faktore te oorkom waardeur gemeenskappe van die oorvloed en voorspoed van die koninkryk van God ontneem word.

Die misleide kerk probeer om nóú te doen wat Christus eers ná sy wederkoms sal doen. Hulle maak hoofsaaklik van menslike hulpbronne gebruik, en dit lei daartoe dat hulle pogings onbybels en dispensasioneel uit plek is. In plaas daarvan om redding aan verlore sondaars te verkondig, probeer hulle om in hierdie bedeling paradystoestande op aarde te skep en sodoende die wederkoms van Christus as Koning voor te spring wanneer Hy sy koninkryk op aarde sal openbaar. Die valse koninkryk van die heerskappyteoloë verskil radikaal van die ware koninkryk van Christus. Hulle berei in werklikheid die weg vir die koms van die Antichris as koning voor, wat  kort voor die wederkoms van Christus uit die geledere van die gevalle mensdom na vore sal kom.

Positiewe denke. Hierdie ideologie, wat ook deur liberale teoloë verkondig word, verteenwoordig ‘n vermenging van humanistiese en Bybelse doelstellings. Dit is baie populêr by regerings, sakemanne, kerke, asook die breër gemeenskap, ongeag of hulle sekulêr of godsdienstig georiënteerd is, omdat dit daarop ingestel is om die samelewing op te hef, armoede te verlig, siekes te behandel, die ongeletterdes te leer lees en skryf, en om vrede en versoening tussen alle faksies van die samelewing te bevorder. Hierdie benadering is baie suksesvol deur Norman Vincent Peale (The Power of Positive Thinking), Robert Schuller (Self-Esteem: The New Reformation) en Rick Warren (The Purpose Driven Life) gebruik. Ooreenkomstig sy basiese aard skakel positiewe denke alle negatiewe gedagtes soos sonde, oordeel, misleiding, valse leraars, valse godsdienste, die Antichris, die valse profeet, Satan, lyding en verdrukking uit. Dit weerhou sy aanhangers daarvan om aan enigeen aanstoot te gee - nie eers aan die sondaar in sy natuurlike (sondige) toestand nie. Alle mense moet welkom voel net soos hulle is, en dan slegs die Christendom aanvaar vir die voordele en seëninge wat dit aan hulle bied. Geen waarskuwings word aan mense gerig na aanleiding van God se naderende oordele oor die sondaars nie.

Positiewe denke is in stryd met die evangelieboodskap en lei na ‘n verdraaiing en afwatering van die evangelie in kerke waar dit verkondig word. Dit is die rede waarom Rick Warren nie God se oordele oor sonde noem nie, en dit sluit die kruisiging van Christus in. Sy swak leerstellige basis verklaar sy ekumeniese uitreik na predikers van alle denominasies, tot selfs ook die Mormone. ‘n Jesus sonder die kruis is nie die ware Jesus nie, ongeag hoe sterk mense van mening mag wees dat hy die Bybelse Jesus verkondig. Warren se benadering lei hom ook daartoe om transformasiebyeenkomste te ondersteun as gesamentlike aksies om God se koninkryk op aarde te vestig. Hy waarsku niemand teen die komende Antichris en die groot verdrukking nie. Wat sal sy ondersteuners doen wanneer die kosmiese Christus as ‘n vredemaker op die toneel verskyn? Sal hulle nie dink dat dit die ware Christus is nie?

‘n Huwelik tussen godsdiens en politiek. Daar is ‘n baie opsigtelike beweging in die wêreld aan die gang om godsdiens en politiek in ‘n noue bondgenootskap aan mekaar te verbind. Dit was algemene praktyk in die antieke wêreld dat maghebbers hulleself vergoddelik het omdat hulle nie net met politieke lojaliteit tevrede was nie, maar ook op aanbidding aangedring het. Die Antichris sal dieselfde doen (Op. 13:4,7,15). Moderne politieke leiers gebruik toenemend ook godsdiens om hulle ondersteuners te motiveer om van die wêreld ‘n beter plek te probeer maak. Hulle werk óf met godsdienstige leiers in die ekumeniese beweging saam, of hulle probeer om self ook ‘n godsdienstige rol te vervul. Dit is alles deel van koninkryksteologie, waarin politieke, sake- en godsdiensleiers al hoe meer saamwerk.

Rick Warren sê dat stabiliteit in enige nasie van ‘n sterk en gesonde regering, ‘n sterk en gesonde sakesektor en sterk en gesonde kerke afhanklik is. Hy het dit met ‘n driepoot-stoel vergelyk. Ten einde hierdie doel van hom te bevorder, reis hy na verskeie lande om regeringsleiers, sakeleiers en kerkleiers toe te spreek en hulle van hul verantwoordelikheid bewus te maak om saam te werk ten einde die mikpunt van stabiele, voorspoedige en doelgerigte nasies te verwesenlik. Volgens koninkryksteoloë is dit die enigste manier waarop die koninkryk van God sigbaar sal kom. Hulle besef egter nie dat die volgende wêreldkoninkryk dié van die kosmiese Christus sal wees nie. Hy sal ‘n drieledige troon hê - as politieke leier, universele messias én die hoof van die wêreldekonomie.

In hierdie ander evangelie wat deur leiers van die opkomende kerk verkondig, deur politieke leiers bevorder, deur die geldmag ondersteun en deur bekende openbare persone gepopulariseer word, is daar hoegenaamd geen verwysing na die koms van Christus vir sy bruidsgemeente, die daaropvolgende openbaring van die Antichris en die uitstorting van goddelike oordele oor ‘n selfgesentreerde, sondige, materialistiese en uiters bose wêreld nie. "Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid, dan oorval ‘n skielike verderf hulle" (1 Thess. 5:3). Wanneer dit té laat is, sal hulle agterkom dat hulle deur valse profete mislei is om ‘n platform vir die optrede van Satan se valse christus te skep.

Die ontsluiting van okkultiese kragte

Die paradigmaverskuiwing na die opkomende nuwe wêreldorde van die kosmiese Christus is al ‘n hele paar jaar lank aan die gang. Hoewel dit so onopsigtelik as moontlik geïmplementeer is, is die veranderings nogtans drasties en verteenwoordig ‘n radikale wegbreek van die waarheid van God se Woord af na die alternatiewe spiritualiteit van die ‘engel van die lig' (vgl. 2 Kor. 11:14). Dit is slegs in ‘n gevorderde stadium van verandering wanneer mense regstreeks aan die verborge kragbron blootgestel word wat aan hulle aangebied word. Spesiale formules, kodes of aksies  is nodig om hierdie kragte te ontsluit en vir die doel waarvoor dit aangebied word, aan te wend. In haar artikel, Mysticism and Global Mind Change (Sept. 2007), sê Berit Kjos: "Wonder jy dalk waarom joga, labirinte en ander meditasie-gebruike skielik hulle verskyning in kerke regoor Amerika gemaak het? Of waarom ‘Christene' nou die ou formules gebruik (‘n kombinasie van konsentrasie, meditasie en visualisering) wat deur towenaars, alchemiste en joga-beoefenaars gebruik is om magiese kragte te manipuleer? Hierdie sintese tussen die Ooste en die Weste het nie toevallig plaasgevind nie. Verskeie dekades lank al het invloedryke kerkleiers ‘n nuwe manier van dink bevorder, ‘n inklusiewe eenheid wat hulle visie van ‘n aardse koninkryk van God sal vervul.

‘n Spesifieke kode, sleutelwoord, mantra, rituele inisiasie, geestesingesteldheid, simbool, bygeloof of aksie is nodig om die okkultiese kragte of geeste op te roep wat Lucifer in ‘n verbloemde vorm aan sy niksvermoedende slagoffers bied. In Die Da Vinci-kode word ‘n reeks numeriese en kriptografiese aanduidings gegee oor hoe die kode van die geheim ontsluit kon word. Die ontrafeling van die kode in Da Vinci se skildery van die Laaste Avondmaal is ‘n belangrike afwyking van die waarheid van God se Woord. Dit bevorder die valse leerstelling dat Jesus nie goddelik was nie, maar ‘n gewone, sterflike man met ‘n vrou en kinders. Die implikasie van hierdie aannames is dat Jesus nie God is nie, dat die Bybel nie waar is nie, dat die verwerpte gnostiese Evangelies ‘n meer aanvaarbare weergawe van Jesus se lewe bevat, en dat daar iewers uit sy onbekende afstammelinge in die eindtyd ‘n persoon na vore mag tree wat op die amp van die Christus aanspraak kan maak.

The Secret is ook op die idee gebaseer dat verborge kragte ontsluit kan word om ons drome te laat waar word en in al ons behoeftes te voorsien. ‘n Nuwe manier van dink stel mense in staat om wonderwerke te doen en hulle eie werklikheid deur hulle gedagtes te skep. Visualisering is ‘n metode om jou gedagtes op ‘n okkultiese energiebron te fokus, waardeur daardie kragte dan na jou toe aangetrek en geaktiveer sal word.

Die Moses-kode word as ‘n kragtige metode voorgehou om jouself tot God te verklaar en daardeur uit kreatiewe magte in die heelal te put om jou drome te bewaarheid en jou omstandighede ten goede te verander. Deur te sê: "EK IS" en dan enige goddelike attribute daarby te voeg, bv. "EK IS die weg en die waarheid," word jy ‘n deelgenoot in Lucifer se rebelse daad van selfverheffing en selfvergoddeliking. Die voorwaarde om jouself tot op die vlak van mede-skepper te verhoog is om God se duidelike opdragte aan jou te minag en daardeur jou eie god te word. Wanneer jy bereid is om dit te doen, sal Lucifer jou onmiddellik bemagtig om sy medewerker te word, en hy sal jou ook toelaat om sekere kortstondige voordele in sy koninkryk te geniet. Die slang het groot sukses met hierdie leuen behaal, wat gebruik is om ons eerste ouers in die Tuin van Eden te mislei. Hy het aan Eva gesê dat indien sy God se opdragte ignoreer, sy nie sou sterf nie, maar inteendeel "soos God sal wees" (Gen. 3:5). Sy het nooit ‘n god geword nie, net ‘n misleide rebel wat tot haar eie ondergang teen die ware God gedraai het. As dit nie vir God se genade was om berouvolle sondaars te vergewe nie, sou sy in haar sonde gesterf het.

Die Antichris se opgang na ‘n magsposisie

Die komende Antichris sal presies dieselfde pad bewandel terwyl hy na ‘n posisie van absolute mag opgang maak, waarin hy homself tot God sal verklaar. Hy sal hom "verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess. 2:4). Wanneer hy homself openlik tot die groot EK IS verklaar, sal Satan hom bemagtig om nog meer tekens en wonders te kan doen. Hy sal die ongeregtige wees (Eng. the lawless one) wat al God se wette sal minag en verbreek terwyl hy optree "volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen" (2 Thess. 2:9). Die duiwel sal hom "sy krag gee en sy troon en groot mag" (Op. 13:2). Sy mede-regeerder, die valse profeet, sal dieselfde magte hê: "Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense" (Op. 13:13).

Die Antichris, wat homself die Christus of God sal noem, sal die hele wêreld mislei om hom te aanbid sodat hulle in sy groot krag kan deel. Hy sal ook ‘n kode gebruik waardeur hy aan mense toegang tot sy donker magte sal gee. "Niemand [sal] kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is 666" (Op. 13:17-18). Die numeriese simbool van die dier en die merk van sy naam sal gebruik word om al sy volgelinge fisies te merk. Hulle sal ‘n eed van getrouheid aan hom moet aflê waardeur hulle hulself verbind om hom en sy beeld te aanbid, die God van die hemel geheel-en-al te verwerp, en ook die ware Christus te verloën, wat in daardie tyd nog steeds deur ‘n minderheid mense aanbid sal word.

Wees gewaarsku dat die gebruik van verborge kodes om toegang tot bonatuurlike magte te verkry, jou ‘n vyand van God sal maak omdat jy jouself op ‘n verwaande manier tot God of die Seun van God sal verklaar. Daardeur sal jy jouself verhef, in sy posisie plaas en sodoende in die rebellie van Lucifer deel. Die ewige oordeel wag op mense wat dit doen: "As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang" (Op. 14:9-11).

Die openbaring van die Antichris is beslis vlak voor die deur. Die grootskaalse misleiding van miljoene mense die afgelope paar jaar het die denkklimaat finaal vir die verskyning van die selfvergoddelikte, universele Christus voorberei. Dit is duidelik dat geheime boodskappe wat deur kodes ontsluit word, ‘n groot rol in die sataniese breinspoeling van die massas gespeel het: Deur die Da Vinci-kode is die leuen onder baie mense gepopulariseer dat Jesus nie God is nie. Deur die Moses-kode is die leuen verkondig dat die mens self God is en die mag het om enige wonderwerk te kan doen. Deur die kodenommer van die komende universele Christus sal die leuen aanvaar word dat hy die God van die mensdom is, wat aan al sy volgelinge die krag gee om voorspoedig te leef en wonderwerke te kan doen.

Volgens die Bybel rus die oordele van God oor die Antichris en al sy misleide volgelinge. Hierdie oordele sal in die groot verdrukking én tydens Christus se wederkoms oor hulle uitgestort word (Op. 6 tot 19). Die Here Jesus gaan sy ware dissiples wegneem voor die toorn van God wat aan die kom is, en hulle moet hiervoor gereed maak: "Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" (Luk. 21:36).

 

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.