Wegvoering van die Gemeente

Wegvoering van die gemeente

Uittreksel uit die boek "Openbaring vir ons tyd" deur prof. Johan Malan

Die gemeentes in Openbaring was dus bewus van die belofte oor die eerste opstanding wat net vir die regverdiges bedoel is, wanneer die ontslape én lewende gelowiges in ‘n oogwink verheerlikte liggame sal kry. Paulus sê: "Die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal hulle as ‘n verenigde groep weggevoer word, Christus tegemoet in die lug, en saam met Hom na hulle nuwe tuiste in die hemel gaan (1 Thess. 4:16-17; Joh. 14:2-3).

Met die wegraping sal die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal. Dit sal geestelik in ‘n baie donker tyd van die wêreldgeskiedenis wees wanneer Messiaanse Jode én evangeliese Christene onder die nasies aan verwerping en vervolging weens hulle Bybelse geloof in Jesus onderwerp sal word. In daardie tyd, kort voor die verdrukking, sal die antichristelike gees in die wêreld sterk werksaam wees om die godheid van die Here Jesus te loën, sy opstanding en wederkoms te bevraagteken, die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in diskrediet te bring, en ook Bybelse beloftes soos dié oor die wegraping te ontken en as vals voor te stel.

Tydens Jesus se eerste koms was daar ook groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte aan hulle gemaak: "Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is" (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ‘n huweliksverbond behels het. In die tyd van die Here Jesus was dit gebruiklik dat só ‘n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy vir haar moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is ‘n huweliksverbond gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en bruid uit ‘n beker nuwe wyn gedrink waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus tydens sy eerste koms sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: "Julle is duur gekoop" (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19). In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: "Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed" (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Soos wat die Joodse bruid verklaar is om heilig en slegs aan haar bruidegom toegewy te wees, moet ons ook voorberei word om vlekkeloos voor Christus te verskyn. Hy het voorsiening hiervoor gemaak: "Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees" (Ef. 5:25-27).

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir ‘n jaar lank gebly. Hierdie periode het aan die bruid die geleentheid gegee om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Christus het ook ná sy eerste koms en die betaal van die koopprys vir sy bruid, na sy vaderhuis in die hemel teruggekeer om vir ons plek te gaan berei. In die huidige tyd van afsondering moet ons op die lewe in die hemel voorberei word, getrou aan die Here Jesus bly en die werk doen wat Hy aan ons opgedra het deur die uitnodiging tot lidmaatskap van sy bruidsgemeente ook aan ander mense te rig. Die gevaar bestaan egter dat ons in hierdie tyd deur Satan en die wêreld verlei kan word om ontrou aan Christus te raak en sodoende uit ons heilige verhouding met Hom te verval.

Paulus sê aan die vleeslike Korinthiërs, wat absoluut traag was om die opdrag tot heiligmaking na te streef en uit te leef (1 Kor. 3:1-17), dat hulle as gevolg van daardie houding ontrou sou raak en die wêreldse gees ten prooi sal val: "Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus" (2 Kor. 11:2-3). Uit die gelykenis in Mattheus 25 is dit ook duidelik dat vyf van die maagde té min olie in hulle lampe het, wat ‘n aanduiding daarvan is dat hulle nie in die volheid van die Gees gewandel het nie en dus nie waardig is om voor die Bruidegom te verskyn en Hom na sy vaderhuis te vergesel nie.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ‘n geheime ontmoeting met haar was. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet waar sy hom ingewag het, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede vertoon nie. Hy, sy strooijonker en ander manlike reisgenote het ‘n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ‘n geroep voorafgegaan. Hierdie geroep was ‘n blye boodskap aan die bruid dat die bruidegom gekom het om haar te kom haal (Matt. 25:6). Dan was dit té laat om eers gou voorbereidings vir die ontmoeting met die bruidegom te gaan tref.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ‘n geroep aangekondig word: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4:16-18).

Die huisgenote van die bruid het gewoonlik eers die volgende oggend gemerk dat sy en haar vriendinne verdwyn het, en dan besef dat die bruidegom haar daardie nag kom haal het. Hulle het dan as ‘n afsonderlike groep na die huis van die bruidegom vertrek om as genooides die huweliksfees te gaan bywoon.

Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die ander lede van Jesus se bruidsgemeente skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie van die Jode besef dat die hemelse Bruidegom hulle kom haal het. Dit sal vir hulle ‘n sterk bewys wees dat Jesus die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld is, en op grond daarvan sal daar ‘n groot herlewing in Israel wees waarin 144 000 Jode kort ná die wegraping gered sal word (Op. 7:1-8). Die meerderheid van die volk sal egter geestelik verblind wees en met die valse messias ‘n verbond sluit om sodoende deel van sy "bruid" te word. Dieselfde ontdekking sal ook met ‘n groot skok oral in die wêreld gemaak word, waar dit baie opsigtelik sal wees dat sommige mense spoorloos uit hul huise en van hulle werksplekke af verdwyn het (Matt. 24:40-42; Luk. 17:34-36). Daar sal net een Bybelse verklaring hiervoor wees, en dit is dat die hemelse Bruidegom in die geheim gekom het om sy bruid te kom haal en na haar hemelse woning weg te voer.

Wanneer die Joodse bruidegom en sy geselskap by sy vaderhuis aangekom het, was sy bruid steeds gesluierd en het hy haar na die bruidsvertrek (huppah) geneem waar hulle vir sewe dae lank alleen saam was en die huwelik finaal volvoer is. Intussen het die gaste aangekom en die voltrekking van die huwelik gevier. Ná die sewe dae het die bruidegom sy bruid ongesluierd aan die gaste voorgestel sodat almal haar kon sien. Dit het tot groot blydskap en uitbundige feesviering gelei.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die bruid van die Messias ook weggeneem en verborge gehou word op ‘n plek waar die res van die wêreld haar nie kan sien nie. Die sewe dae van die huppa dui profeties op ‘n jaarweek, wat die sewe jaar is wat sal verloop tussen die wegraping en die sigbare openbaring van Christus en sy bruid aan die hele wêreld. Ná die vereniging tussen Christus en sy bruid sal daar inderdaad sewe jaar verloop voordat die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) op aarde gevier sal word. Eers moet Hy en sy bruid by sy wederkoms aan die wêreld geopenbaar word: "Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word" (Kol. 3:4). Hierna sal die bruilofsfees plaasvind, waar die oorblyfsel van Israel wat eers tydens die Messias se wederkoms gered sal word, onder die gaste sal wees: "Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges" (Op. 19:7-8). Sy sal as die bruid van die Lam met ‘n vlekkelose kleed voor Hom verskyn.

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.